Nasionale Kredietreguleerder
Pretorium Trust is 'n geregistreerde kredietverskaffer ingevolge die Nasionale Kredietwet (NCRCP228) en onderskryf die kodes wat deur hierdie Wet vereis word.
Die gebruik van kredietfasiliteite vir verbruikersbesteding en die finansiering van motorvoertuie en luukse goedere is gerieflike en noodsaaklike instrumente vir baie verbruikers.
Indien kredietfasiliteite egter nie behoorlik bestuur word nie, kan 'n verbruiker in 'n skuldstrik beland met ernstige en nadelige langtermyngevolge.
’n Verbruiker wat finansiële moeilikhede ondervind tot so ’n mate dat hy nie sy skuld kan diens nie, loop die risiko dat ’n vonnis teen hom toegestaan word en dat hy ook by ’n kredietburo swartlys word. Ingevolge die Nasionale Kredietwet mag ons, teen addisionele koste, die diens van ’n Skuldberader aanwend om sy skuld te herskeduleer.
Die nadeel vir 'n verbruiker is dat, totdat sy skuld vereffen is, hy toegang tot enige vorm van kredietooreenkoms geweier sal word.
Die volgende is 'n paar wenke wat verbruikers kan help wat aansoek wil doen vir krediet:
- Begroot maandeliks om u inkomste te vergelyk met uitgawes om te verseker dat die betalings ten opsigte van addisionele krediet aankope bekostigbaar is.
- In die meeste gevalle is rente sowel as ander koste betaalbaar op kredietfasiliteite. Sulke rente kan teen 'n vaste of 'n wisselende koers gehef word. Wisselende rentekoerse was 'n groot oorsaak van finansiële moeilikhede vir baie verbruikers in die geval van uiterste renteverhogings. Dit is noodsaaklik dat 'n verbruiker vir sulke onvoorsiene situasies moet begroot, veral met betrekking tot huisverbande en motorvoertuigfinansiering.
- Begroot vir onvoorsiene uitgawes soos mediese rekeninge voordat u aansoek doen vir krediet. 'n Kredietfasiliteit is 'n handige instrument, maar moet ongelukkig streng in ooreenstemming met die kredietooreenkoms betaal word.
- Die konsolidasie van skuld deur addisionele duur krediet te bekom, kan die situasie vererger aangesien nuwe skuld ook terugbetaal moet word. Dit sou raadsaam wees om eerder, vir eers, enige onnodige uitgawes te vermy. Om 'n mens se lewenstandaard te verlaag is 'n moeilike ding om te doen, maar is beslis die beste opsie vanuit 'n langtermyn oogpunt.